Geskiedenis van Boshoek en Omgewing (Niel van Skalkwyk)

GESKIEDENIS VAN BOSHOEK EN OMGEWING 

Niel van Skalwyk

 

Lank voor die Groot Trek, het verskeie jagters uit die Kaap so vroeg as 1820 die binneland van die Vrystaat binne gedring en reeds so vêr as Port Natal gevorder. Hulle het toe alreeds met stories teruggekeer na die Kaap van die Zoeloe Koning Tsjaka met sy geweldige Militêre gevegsvermoë en sy goed opgeleide impi’s  (‘n impi is ‘n 1000 man).

Baie van die Jagters veral na 1824 het van die impi’s tee gekom in die Vrystaat waar hulle hele statte en kleiner stamme algeheel uitgeroei het. Baie van die kleiner Sotho sprekende stamme het dan ook gevlug, toe woord van Tsjaka se uitroeiingsoorloë hulle bereik het. Hulle het oor die berge gevlug na die huidige Lesotho waar Mosjes 1 hulle met ope arms verwelkom het. Gedurende die tyd van Tsjaka was Mosjes 1 ook besig om die Basoetoe volk op te bou uit die brokstukke van die voortvlugtende kleiner stamme. Die tyd in die Geskiedenis het dan bekend gestaan as die tyd van die groot ,,Lifakane’’. Die tyd van Moord,  Doodslag en Hongersnood.

Die Basoetoes wat dan die bergatige dele van die Oos Vrystaat beset het agter die huidige Rooi Berge was meesters in die aanlê van lokvalle in die berge en klowe. Tsjaka het by verskeie geleenthede probeer om die Basoetoes aan te val in hulle bergvestings maar na verlies van verskeie van sy impi’s in die berge die stryd gewonne gegee.

Tsjaka het dan gedurende sy tyd as koning van die Zoeloes die wêreld so vêr as Vryburg in die Noord Kaap, Thaba Nchu naby Bloemfontein, Gaborone en Francistown in Botswana en so vêr as Bulawayo in Zimbabwe skoongemaak van enige plaaslike inwoners.

Die gevolg hiervan was dat toe die eerste Voortrekkers onder Piet Retief deur die Vrystaat begin trek het in 1836 hulle ‘n woeste leë landskap aangetref het sonder enige teken van mense, behalwe rondom die huidige Thaba Nchu. As gevolg van skaarste aan mense sê die Geskiedenis boeke het die heuwels en berge gebuig onder die gewig van die wild.

Piet Retief het vanaf Winburg al op die gelyktes gehou met die gevolg dat toe hy Bethlehem omgewing verby is hy al langs die Langeberge getrek het oor Kestell en na Kerkenberg. Sy trek osse kon die pas volhou daar hy redelik gelyk pad getrek het om sy osse te spaar. In die tyd kon ‘n span osse net ongeveer 16 kilometer op ‘n goeie dag trek en die pas kon ook maar net vir drie dae volgehou word dan moes die diere eers weer’n paar dae rus.

Ongeveer ‘n jaar later word hy gevolg deur Piet Uys. Dit blyk dat hy haastig was om Piet Retief in te haal. Om tyd en distansie te spaar trek hy al onder die huidige Rooi Berge langs vanaf die Kaap, al langs die toentertyd se grense van Kafferland. Hy is deur Slabbertsnek  waar hy ‘n tydjie oorgestaan het by die bekende Uys Kuile. Maar deurdat hy haastig was het hy ‘n moeilike trek roete gekies met geweldige op en afdraendes. Met die gevolg dat toe hy by Laerkoppie kom was sy osse so uitgeput dat hy ‘n hele paar maande (ongeveer 5 maande) moes oorstaan om sy trek osse kans te gee om te herstel en hulle kragte op te bou. (TOT OP DATUM KON DIT NOG NIE BO ALLE TWYFEL BEWYS WORD DAT DIT WEL PIET UYS WAS WAT OP LAER KOPPIE GESTAAN HET NIE). Maar dat alles daarop dui dat dit wel hy kon gewees het is vir ons doel goed genoeg.

In die tyd wat die Voortrekkers dan op Laerkoppie staan word 9 ossewaens gestuur om agter die berge in die Clarens en Golden Gate omgewing te gaan jag. Vier dae later is die waens terug volgeskiet met wild. In die tyd wat die laer daar gestaan het, het die Voortrekkers ‘n groot deel van die omgewing verken met die gevolg dat toe die trek verder gaan na Natal, die Van Der Linde familie besluit het om nie verder te trek maar hulle dan op die huidige plaas Boshoek te vestig by die Reuines soos ons dit tans ken. (Ek sien op die kaart van die plaas Boshoek dat daardie gedeelte van die plaas naamlik 5 ha bekend staan as Monument). As mens na die eerste huisie kyk naby die groot Bloekomboom sien jy ‘n tipiese Voortrekker huis met net twee vertrekke. ‘n  Eet- sitkamer aan die een kant met ‘n slaapkamer aan die ander kant. Onthou die vrouens het nie daardie dae ‘n kombuis gehad nie daar is sommer in die ossewa gekook wat gewoonlik naby die huis onder ‘n boom gestaan het. Die het dan ook gedien as slaapkamer vir die kinders. Die families was groot van 9 tot 14 kinders.

Na die slag van Bloedrivier 1838 kom die Bruwer familie wat verwant was aan die Van Der Lindes terug vanaf Natal en vestig hulle ook op die plaas Boshoek maar in die omgewing van die ou swarte se strooise wat daar onder die berg woon. Die klipstapels wat daar waargeneem kan word is dan hulle ou huise. So word dan die eerste blanke gemeenskap in die Oos Vrystaat gevestig.

Die Voortrekkers het op die stadium geweldig las van Leeus ander wilde diere asook swartes wat van anderkant die berg afkom om hulle beeste en ander vee te steel. Gevolglik bou hulle die massiewe kraal waarvan die oorblyfsels waargeneem kan word as mens by die ou Peerbome staan. Die bome sowel as die Appelkoosbome daar naby is dan ook deur die Voortrekkers geplant en kan moontlik tussen 130 en 150 jaar oud wees. Die vee is dan saans in die kraal ingejaag en die mans het beurte geneem om wag te staan in die kraal.

Al meer Voortrekkers kom in die tyd terug vanaf Natal en vestig hulle hiervandaan na Bethlehem en verder in die Riemland. (Reitz omgewing). Bekend as die Riemland as gevolg van die baie wildsvelle wat ooral in stapels op plase gelê het en die rieme wat  daarvan gebrei is.

Teen 1845 annekseer Sir Harrismith die Vrystaat en lyf dit in onder die Britse Empire  met homself as Goewerneur. Teen die tyd het die Voortrekkers alhier en verder na Bethlehem se kant al meer las van die Basoetoes en hulle versoek Sir Harrismith om hulle te kom help teen die Basoetoes. Hy kom saam met Majoor Warden en ‘n Britse troepemag van ongeveer 600 man en hulle verdryf die Basoetoes van agter die Rooi Berge en jaag hulle oor die huidige Caledon Rivier wat dan bekend staan as die grens van Basoetoeland. Die gedeelte vanaf die Rooi Berge tot by die Caledon rivier staan daarna bekend as die verowerde gebied wat die volgende dorpe en plekke insluit. Golden Gate, Clarens, Fouriesburg, Ficksburg, Clocolaan, Ladybrand en Wepener.

‘n Periode van relatiewe voorspoed en vrede breek aan vir die nedersetters. Maar teen 1860 begin die Basoetoes met grondeise in die verowerde gebied die stelery van vee neem weer toe en hulle herbeset die gebied. So volg die derde Basoetoe oorlog in Bethlehem omgewing. Teen 1865 is die probleem so groot dat ‘n versoek gerig word aan Paul Kruger in Transvaal wat toe aan die hoof van die Burgermagte was om hulle te kom help teen die Basoetoe. Hy arriveer teen 1866 met ‘n Boerekommando van ongevver 400 man. Hulle trek laer op die plaas Clarens n paar tree vanaf die huidige skure. Dit blyk dat hulle laat middag daar aangekom het moeg  was van die lang trek vanaf Pretoria en nie ‘n behoorlike laer opgeslaan het nie. Paul Kruger het die Basoetoe aanval eers ‘n paar dae later verwag. Maar daardie selfde aand val die Basoetoes die laer aan. Hulle steek 5 burgers dood met assegaaie in die waens en wond ‘n verdere 10 baie swaar. As gevolg van die geskreeu in die laer en die totalle chaos word die laer wakker en die burgers begin skiet en dood ongeveer300 swartes. ‘n Paar dae hierna verdryf Paul Kruger met sy manskappe die Basoetoes finaal uit die verowerde gebied tot anderkant die Caledon Rivier en die Boere word op aandrang van Paul Kruger versoek om die verowerde gebied te beset indien hulle die vrede wil bewaar.

Na die periode gaan dit met die gemeenskap op Boshoek baie goed. Dit word ‘n groot gemeenskap mans vrouens en kinders. Water begin egter ‘n probleem te word. Daar die bergstroom nie genoeg water het om so ‘n groot klomp mense met hulle vee te onderhou nie.

Teen 1898 kom die oorlogswolke op. Baie van die mans in die omgewing sluit by die kommandos aan van Genl. De Wet, Genl. Michael prinsloo en andere. Baie vrouens en kinders vlug en gaan skuil vir die duur van die oorlog in die holkranse van Ill Paradiso, Elim, Drupfontein en andere in die omgewing. Gedurende die oorlog self word baie plaashuise in die omgewing afgebrand so word meeste van die huise op Boshoek verwoes. Na die vrede van 1902 met die terugkeer van die mans uit die kommandos en van ballingskap na Ceylon, Bermuda en ander plekke het meeste van Boshoek se inwoners dan aan die anderkant van die berge gaan vestig in die verowerde gebied. (Clarens omgewing).

Dit is nie duidelik hoeveel mense weer op Boeshoek gevestig het na die oorlog nie. Maar daar moes tog ‘n paar gesinne weer hier kom woon het. Vandaar dan moontlik die Uyse wat nog later hier te vinde was.

              

 

WAAR KRY CLARENS SY NAAM.

Met die anneksasie van Transvaal deur die Britse Empire 1898 gaan Paul Kruger in self- ballingskap eers na Holland en later na Switserland. Hy woon aldaar in ‘n dorpie met die naam van Clarens uitgespreek Claraan, waar hy dan ook later dood is. As gevolg van sy betrokkentheid met die Basoetoe oorloeë in die gebied en die bergatige omgewing wat mense aan Claraan in Switserland herrinner het word die dorp dan Clarens genoem.

DIE BEGRAFPLAAS

Volgens die boek Clarens 1900 tot 2000 van Ds. Piet Grobler en Proffessor Piet Straus maak hulle wel melding van die begrafplaas maar kon dit nooit kry nie.

Die begrafplaas is baie interessant in die sin; kom mens by die hek in sien jy dadelik op jou regterhand ‘n enkel graf met die kopstuk wat omgeval en op die grond lê. Net langsaan op linkerhand moet ‘n dubbele graf wees. Die kopstuk lê ook reeds op die grond. Beide kopstukke het niks op hulle gegraveer nie. Die grafte is dan van die oudste, alhoewel daar ook ‘n paar kindergrafte is. Wat my baie intereseer is hoe het hulle die lyke daar gekry. Ek aanvaar daar was nie kiste beskikbaar in daardie tyd nie. Is die lyke dan in komberse toegedraai oor ‘n perd gegooi en dan daarheen vervoer of is hulle soontoe gedra. deur die sloot? Daar is geen driffie of teken van ‘n ou drif in die omgewing van die reuines nie .

Daar is ook die eerste betongraf in die begrafplaas. Die dame is gebore Van Der Linde in1837 sy is oorlede 1902 as Van Der Heide. My teorie hoekom die graf van beton gemaak was is dat na die Boereoorlog in 1902 sement reeds volop verkrygbaar was daarom die graf van beton. Dit is ook duidelik dat die setlaars van plan was om die begrafplaas met groot klippe rondom toe te bou daarom die klippe wat daar opgestapel lê.

My afleiding is dat die Boereoorlog uitgebreek het voordat hulle sovêr kon kom. Na die oorlog was doringdraad volop te kry veral tussen die blokhuise en was dit dan makliker om die begrafplaas met doringdraad toe te span. (Nie dat die huidige draad nog van die oorspronklike was nie). Ook moet daar sekerlik onthou word dat baie van die mense wat ‘n belang by die begrafplaas gehad het seker dood is in die oorlog en die Britse konsentrasie kampe met die gevolg dat die hele aanvanklike plan met die begrafplaas verander het. Interesant is die pilare rondom die begrafplaas met hulle netjies skuins afgewerkte koppe. Gee ook aandag aan die skuins klippe by die hek en op die hoeke  van die begrafplaas, let op hoe netjies is die skuins klippe ingewig in die regop pilare. Dit is gedoen deur mense wat klipwerk verstaan het.

 
Tsjaka Zulu.
The Zulu Kings.
Die video reeks ,,Tsjaka’’.
Lobengula van Gustav Preller.
History of Betsjoeanaland and the Tswana Nation.
Mosjes 1 and the Basutu Nation.
Die Geskiedenis van Suid Afrika.
Die groot Trek 1836 en daarna..
Clarens 1900 tot 2000 deur Ds. Piet Grobler en Prof. Pieter Strauss.
Off Warriors,Lovers and Prophets by Max du Preez.
Bethlehem 125 jaar. Deur Dr. A.J.P van Remsburg.
Hill of Destiny. By Peter Becker. (Mensvreters en geskiedenis van Lesotho. Louw
Wepener.)
Path of Blood. Deur Dr. Peter Becker. (Mizilkazi en die Matabeles).
Rule of fear. Deur Dr. Peter Becker. Dingane en die moord op Piet Retief.
Commando: Deur Denys Reitz. Laaste aangetekende daad van Kannibalisme 1901 Wes Basoetoland. Kommando onder Generaal Jan Smuts na die Kaap.Boere oorlog.
Mountain Odyssey: Deur David Coulson. Text deur James Clarke. Bladsy 91 Artists and Cannibals.

Further Reading

Click here to see other articles on the history of Clarens

Click here to read this article in English