CLARENS by Izak de Vries

Clarens NG Kerk
Photo by Izak de Vries 2014

Tydens my eerste dag in Clarens het ek my vrou verloor én is met twaalf blondines huis toe.  Dit het alles gebeur in Julie 2014 tydens ’n gesinsvakansie in die Oos-Vrystaat.  Saam met my ma, my seun en my geliefde het ons vir sewe dae net buite Clarens gebly en gereeld ingery dorp toe.

Ek het heelwat gelees oor Clarens voor my besoek, so ek het idee gehad van die wat ek sou kon verwag, maar uiteindelik moet ’n mens maar daar rondloop om die sjarme van die dorp te ervaar.

Eerste kennismaking

My eerste ervaring van die dorp was op ’n Saterdagoggend, vakansietyd en daar was heelwat mense.  Tog is die dorp skoon.  Hier is ’n trotse gemeenskap.  Nêrens lê rommel rond nie.

Ná ’n stadige reccie, per motor, besluit ons om verder te stap.  Die grootste deel van Clarens se sakekern is om of naby die dorpsmeent, met ’n tweede kern so ’n kilometer pad af, langs die hoofpad.

Ek verloor my vrou sommer gou.  Sy begin deur winkels snuffel, terwyl ek buite rondhang om mense te kyk.  Nou en dan haal ek die kamera van my skouer af en korrel na iets.  Hier is soveel om af te neem, ek is onseker waar om te begin.  As ’n mens lank genoeg getroud is, weet jy later hoe om een oog dop oop te hou vir die geliefde en ’n ander te gebruik vir teikenseleksie.

By die NG Kerk draai ons om en die geliefde haal ’n kaart uit.  Ek staan in die middel van die hoofstraat op ’n Saterdagoggend om my foto se komposisie reg te kry.  Kliek.  Stadig drentel ons terug. Die kunsgalerye lok my, maar vandag wil ek eers net die dorp beleef as toeris.

Clarens Activities
Photo by Izak de Vries 2014

The Village Grocer

The Clarens Village Grocer is ’n klein winkeltjie, maar hier kry ons amper alles wat ons wou koop.  Die rakke is nie stampvol gepak nie, maar die gehalte val op; so ook die duidelike bewustheid van die Tim Noakes-dieet.  Produkte soos klapperolie en xilotol, wat in die stad soms ’n soektog verg, staan hier uitgestal saam met plaaslike kase, vleis, konfyt, beskuit en groente.

Ons laai die rugsak vol.

Twaalf blondines in die brouery

Teen dié tyd het ons genoeg gestap om die brouery aan te durf.  Om te sê dat ons beïndruk was, sou kwalifiseer as ’n erge onderbeklemtoning.

Clarens Brewery
Photo by Izak de Vries 2014

Die kelners bring ’n skinkbord vol klein glasies. Hulle verduidelik die verskillende biere en laat jou proe.  Die biere is puik.  Ek was minder beïndruk met hulle donker mout, maar die Amber, ook ’n donker bier, was uiteindelik my gunsteling.  Die appelsider is baie lekker, die kersiesider te soet vir my, maar baie gewild, en die pynappelsider is beslis die moeite werd.

Ná ons klaar geproe het, vra die geliefde vir ’n sider en ek kry ’n lang glas bier.  Ons bestel ook hulle worsgereg wat bestaan uit vier soorte wors wat drup van die vet, presies soos Noakes sou voorskryf.  Ons besluit ook om ’n boks Clarens Blond te bestel vir huis toe neem.

Trommeldik loop ons later deur die dorp.

The Purple Onion

My geliefde wil nog by The Purple Onion inloer om hulle olyfprodukte proe.  Ek sit en lees in die motor terwyl sy gaan snuffel.  Salig raak ek aan die lees in die sonnetjie wat op die motor bak.

Meer as ’n halfuur later besef ek dat my geliefde darem nou al lánk weg is, maar goed, sy ís verantwoordelik, so ek lees verder.  Tien minute later frons ek en lees weer.  Vyf minute later frons ek ’n tweede keer en hou op lees.  Twee minute later frons ek ’n derde keer en klim uit die motor.

Ek maak of ek die omgewing verken, maar heimlik soek ek my vrou.  Uiteindelik loop ek dralend tot by The Purple Onion. Dit is nou al amper ’n uur sedert die geliefde verdwyn het.  Daar staan sy, besig om ’n vreeslike groot sak vol goed te koop. Haar wange is rooi van opwinding.

Clarens Restaurant Post House
Photo by Izak de Vries 2014

Die ander bladsye in Clarens se boek

Maandagoggend is ons weer in Clarens, dié keer om met die inwoners te gesels.  Daar is amper geen beter manier om ’n dorp te leer ken as om met die plaaslike media te gesels nie.  Toni Walters is die redakteur van die Clarens News en Mary Walker skryf gereeld artikels vir hulle.  Ons ontmoet by die Post House en ’n hele paar rondtes cappuccino volg.

Die middedorp van Clarens is alles amper idillies.  Die uitstekende gastehuise, talle kunsgalerye, koffiewinkels, skoenwinkels en restaurante, gekoppel aan die gevoel van veiligheid, sou jou kon laat dink jy is in Europa.

Clarens Highland Centre
Photo by Izak de Vries 2014

Toni is opgewonde dat ek belangstel in die armer deel van die dorp.  Sy en Mary noem nog ’n aantal opheffingsprojekte.  Clarens is duidelik trots daarop dat Kgubetswana so ’n integrale deel van gemeenskap is.  Toeriste word selfs aangemoedig word om daarheen te gaan.

In die boekie All our yesterdays, wat plaaslik uitgegee is, word vertel hoe ver die geskiedenis van harmonieuse samewerking strek.  Een staaltjie wat my opgeval het, kom uit die dae voor motorkarre.  Die Markhams, ’n vooraanstaande gesin van daardie tyd, was bekend vir hulle filantropie.  Niemand anders nie as die Basotho-koningin het dus besoek afgelê het op die plaas met die geboorte van hulle dogter, Elsie.  Ná ’n noenmaal vir die koninging, het sy die baba opgetel en geseën.

“As jy belangstel in die geskiedenis, moet jy Sethuthuthu kontak!” sê Toni.  Ek skryf neer en later spoor ek hulle op via Clarens News.  Sethuthuthu neem gesinne met vierwielmotorfietse op toere in die omgewing; sethuthuthu beteken motorfiets in Sesotho.  Die toere is nié jaagtogte nie.  Niël van Schalkwyk, die eienaar, neem jou om die geskiedenis, fauna, flaura en geologie van die omgewing te verken.

Die kelnerin kom vra of ons nog ’n rondte cuppocino wil hê.  Sy praat Engels en Afrikaans goed, soos talle ander hier in dié dorpie.

“Hoekom het Clarens so ’n Engelse gevoel as daar soveel mense is wat Afrikaans praat?” wil ek weet.

Toni lag en sê dat dit in Vrystaat inderdaad vreemd is, maar die antwoord lê waarskynlik in die talle Gautengers wat hulle hier kom vestig het.  Daar ís ’n groot Engelse gemeenskap, sê sy, maar toe Kwêla, die Afrikaanse TV-joernaalprogram onlangs ’n insetsel oor die dorp wou skiet, was dit maklik om vir hulle ’n baie lang lys Afrikaanssprekende inwoners te reël om mee te praat.

“Dalk aanvaar mense te maklik almal is Engels,” sê Toni, “blaai maar net diep genoeg in Clarens se boek en jy gaan talle tale hier raakloop.”

Clarens Bakery
Photo by Izak de Vries 2014

Die oorlog blaai weer oop voor my

Enige iemand wat, soos ek, tyd in ’n weermaguniform spandeer het, sal ’n sekere emosionele reaksie voel op Peter Badcock-Walters se fotorealistiese potloodsketse.  Sy bekendste boek, hier in Suid-Afrika, is Images of War.  Dit is amper onmoontlik om te dink dat hierdie potloodtekeninge nie foto’s is nie; tog is hulle beperk tot die essensie, en daarmee saam die emosie.

Een oggend vroeg ontmoet ek die skepper van hierdie ongelooflike werke nadat ek die kunsgallery besoek het waar sy werk uitgestal word.  Peter het ons vir ontbyt genooi by die Courtyard in die onderste sakekern.  Ons bestellings word geneem – die restaurant doen die Noakes-ding, ja, geen probleem nie.

Peter was ook die kunstenaar wat Oom Schalk Louwrens lyf gegee het in die werk The Illustrated Bosman.

Clarens se boek is nog lank nie klaar geskryf nie, dink ek later toe ek nog kunsgallerye besoek, hier is soveel stories om te lees en raak te loop, ’n mens moet jouself net die tyd gun om te kom snuffel.

Clarens Shops Bibliophile
Photo by Izak de Vries 2014

Die Bibilophile

As jy hou van boeke, is die Bibliophile ’n gevaarlike plek.  Dit word landswyd gereken as een van die interessante boekwinkels in Suid-Afrika.  Uitgewers weet Debra Stewart, die eienaar en bestuurder, is baie selektief in haar aankope, maar versamelaars weet ook dat haar winkel juweeltjies inhou.

Debra lag toe ek vra hoe sy hier kom woon het. “Moenie dít vir iemand van Clarens vra nie, jy gaan baie stories kry.”

“Ek is hier vir die stories,” sê ek.

Sy en haar man het een naweek gesoek na ’n wegbreekplekkie wat nie ver van Johannnesburg is nie.  Hulle het regtig net vir die naweek gekom, maar toe raak hulle verlief op die dorp.  Maande later het hulle permanent op Clarens gebly.

Terwyl ons deur die boeke loop, vertel sy ook van die mark wat gereeld voor haar winkel plaasvind.  Dit is plaaslike mense wat hulle produkte bring om verkoop te word.  Daar is heelwat enkelvroue wat boer vir die pot en dan hulle surplus op die grasperk voor haar winkel kom verkoop.

Clarens Golden Gate
Photo by Izak de Vries 2014

Golden Gate

Mense wat hou van die aarde se geskiedenis, moet die storie, geskryf in klip, opsoek in die Golden Gate Nasionale Park.

Dié nasionale park is ongeveer 18 km van Clarence af, op ’n baie goeie pad.  Toegang tot die park is gratis, maar as jy in die berg wil stap, moet jy by die kantoor aanmeld om ’n permit te kry.  Indien jy ’n Wild Card het, is dié permitte gratis.

Clarens Golden Gate
Photo by Izak de Vries 2014

Die rotsformasies is pragtig en vir die amateurgeoloog is daar baie te sien.  Die onderste deel van talle rotse is diep rooi.  Dit is moddersteen wat ongeveer 200 tot 260 miljoen jaar oud is.  Die Vrystaat was toe ’n vloedvlakte, soortgelyk aan die Okavango vandag.  Die rooi gedeeltes is dus sediment wat oor miljoene jare neergelê is. Moddersteen is meer poreus as die lae daarbo.

Toe verander die klimaat en 40 miljoen later was die Vrystaat ’n woestyn.  Die geel laag, wat amper oral voorkom, is die sogenaamde Clarenssandsteen.  Hierdie laag is 196 miljoen jaar oud.  Die westewinde het voortdurend sand aangewaai en duine het gevorm, wat later versteen het.

’n Hele aantal dinosourusse het gedurende hierdie tyd in dié gebied geleef.  Die mees algemene dinosourus in die streek was die Massospondylus, iets wat baie soos ’n hedendaagse sekretarisvoël gelyk en geloop het.

Toe kom die chaos.  Vir 55 miljoen jaar was die Oos-Vrystaat geleë op aktiewe vulkane.  Die vertikale swart vlekke wat oral in die rotse te sien is en die harde bokant van die berge, is lawa.  Die vulkane het uiteindelik uitgewoed en die harde kors, wat alles toe bedek het, kon stol.  Daardie lawe is baie hard en verweer stadiger as die sagter lae daaronder.

Om die Brandwag te klim

Die Brandwag is waarskynlik die bekendste rots in Golden Gate.  Om dit te klim, begin jy stap by die Glen Reenen Rusoord.  Dit is ’n styl, maar maklike stap.  Heel teen die einde is daar ’n stukkie waar jy liefs aan kettings moet vashou.

Die alternatiewe roete begin naby die hotel.  Dit is grootliks ’n roete wat uit trappies bestaan.  Van bo af is die uitsig ongelooflik.

Clarens Golden Gate Echo Ravine
Photo by Izak de Vries 2014

Echo Ravine

Net ná die Brandwag, het ons in Echo Ravine gaan stap.  Dit is baie naby die Brandwag.  Die rooi moddersteen en geel sandsteen is sagter as die harde basalt wat daarop rus.  Die rots onder die basalt verweer vinniger en so vorm holtes onder die harde bolaag.  Die vallei het dus ’n basaltdak op.  Ek beveel hierdie stap aan vir enige geologieliefhebber.

Diep in die vallei het ons op ’n yspoel afgekom.  Snags, met temperature in Clarens van tot -14 grade Celsius, vries die water.  In die dag kom hier nie genoeg son om dit weer te smelt nie, so nuwe water val daarop en vries in die nag.  Dit was indrukwekkend om in Suid-Afrika op brokke ys te staan wat lyk of dit uit ’n Noorse gletser kom.

Clarens Golden Gate
Photo by Izak de Vries 2014

Holkransroete

’n Aantal dae later het ons ook die holkransroete gaan stap.  Dit is ’n maklike stappie wat agter die Golden Gate Hotel begin.  ’n Mens loop deur van die mooiste rotsformasies wat jy jou kan voorstel.  Die grotte laat ’n mens dink aan katedrale, tempels en moskees.

Die aasvoëlrestaurant

In Golden Gate is daar ’n voëlskuiling gebou waar dikwels karkasse neergesit word vir die bedreigde krans- en baaraasvoëls.

Terwyl ons daar was kon ek ’n kransaasvoël baie mooi afneem.  Die baardaasvoëls het ’n recce kom doen, maar was nie lus vir kos (of vir my lense) nie.  Die rooijakkalse wat daar kom vreet het, was egter baie vermaaklik.

Clarens Golden Gate Vulture Restaurant
Photo by Izak de Vries 2014

Ek wil weer gaan kuier

Weke ná ons kuier blaai ek nog deur die foto’s wat ek in Clarens en in die Golden Gate Nasionale Park geneem het.  Ek wil weer gaan.  Clarens sal my weer sien.

 Izak de Vries 2014

 

Click here to read Mary Walker’s introduction to Izak de Vries

Kyk gerus na Izak se blog, hieronder:

http://blogs.litnet.co.za/izak/2014/08/16/kiara-lodge-clarens/

http://blogs.litnet.co.za/izak/2014/08/12/met-ys-ja/

http://blogs.litnet.co.za/izak/2014/08/02/vakansiekiekies-hou-oud-is-die-rotse/

http://blogs.litnet.co.za/izak/2014/08/02/vakansiekiekies-ys-in-die-echo-ravine/

http://blogs.litnet.co.za/izak/2014/08/01/vakansiekiekies-die-brandwag/

http://blogs.litnet.co.za/izak/2014/07/23/silwerrugjakkalse-baklei-by-n-karkas/